Maria (Murray) Neethling (1831 – 1912)

Ons voorblad toon die foto’s van Maria, die vierde kind en oudste dogter van ons stamouers, Amdrew en Maria (Stegmann) Murray, en haar man Johannes Henoch Neethling (1826 – 1904).

Maria ontvang haar eerste lesse aan moedersknie. Twaalf jaar ou gaan sy na “Mrs Pears’ School for Girls” in Somerset-Oos. Op kosskool raak sy diep bekommerd oor haar geestelike lewe. Daar moes ’n besonder vertroulike band tussen dogter en vader bestaan het, want in haar briewe vra sy hom gedurig om raad en voorbidding.

Twee jaar later kom sy tuis. Soggens hou sy vir haar boeties en sussie skool en smiddags versorg sy hulle klere. Vir haar was daar nie kans vir verdere studie nie, maar haar wakker verstand en drang na kennis het sy versadig deur baie te lees. “She delighted in biography and poetry,” sê sy van haarself in “Unto Children’s Children”, “and had a great veneration for saintly men and women. Of the poets, Milton and Cowper were her favourites, but … the handsome volume of Shakespeare, which lay hidden behind some other books in her father’s study, she was forbidden to touch, and when once she did surreptitiously open it, her little Puritan soul was so shocked by the oaths and curses that she quickly put it back! A copy of Don Juan was committed to the flames of the brick oven by her mother – wholesome lesson to the children.”

Die terugkoms van haar twee broers, Johan en Andrew van hule studies oorsee, was vir haar ’n groot vreugde. Sy verlustig haar in alles wat hulle te vertel het. Hulle bespreek die godsdiens en sake van die dag. “Here love and admiration for her two elder brothers were unbounded,” so getuig sy self. Hul briewe aan mekaar getuig van ‘’n innige verhouding wat dwarsdeur hul lewens geduur het. Drien maande lank het sy vir Andrew, nog ongetroud, op Bloemfontein gaan huishou. “But her promise to remain with him always was broken when she accepted the offer of marriage made by her brother’s friend, J H Neethling!”

Op 21-jarige leeftyd trou sy dan, ’n huwelik waarvan sy jare later self sê: “The many happy years of married life showed that God had chosen for her.” Sewe jaar bly hulle gelukkig op Prins Albert. Dan neem ds Neethling ’n beroep na Stellenbosch aan, en daar het die drie vriende, John Murray, Nicolaas Hofmey en Jan Neethling saam gearbei tot die dag van hulle dood.

Marié – soos haar man haar genoem het – het hom in al sy gemeentewerk bygestaan. Sy grootste belangstelling, ná sy geestelike werk, was die opvoeding en die sending. Hy stig skole en koshuise, en sy dogter vertel dat die name, soos Bloemhof, Eikenhof, Harmonie en Wilgenhof, sý keuse was. In sy tyd is die ook die moederkerk herbou.

Op die dorp het die Dominee se aangename geaardheid hom bemind gemaak. Nie alleen sy eie nefies en niggies nie, maar ook al die kinders het hom “Oom Neethling” genoem. Jan Neethling en sy vrou was beroemd vir hulle gasvryheid. Die pastorie het letterlik oorgeloop van al die gaste – sendeling, o a dr Moffat, onderwysers wat op losies wag, niggies en neefs wat van afgeleë plekke kom studeer, is met ope arms ontvang.

Maria was diep vroom en het haar daagliks afgesonder om te bid – vir die kerk, die sending, haar kinders en vriende. Haar dogter Nettie het van haar gesê: “As my ma nie so ’n goeie Calvinis was nie, sou sy ’n wonderlike Rooms-Katoliek uitgemaak het!” Ten spyte van haar drukke lewe vind sy tyd om te skryf: “Aangename Zondagen”en “Zondag Agtermiddag”, twee boeke met Christelike verhale, was sekerllik aan die meeste Afrikaner-kinders van die vroeë twintigste eeu bekend. Ná ds Neethling se dood in 1904 bou die gemeente vir sy weduwee ’n huis in ’n deel van die pastorietuin, aan die Laan. Maria hou vol met haar skryfwerk. Sy neem die redaksie van haar man se Christelike maandblad “De Wekker”oor en skryf self die vernaamste artikels.

Haar kinders was sewe seuns en vyf dogters. Hendrik, predikant op Lydenburg, dien tydens die Anglo-Boere-oorlog as veldprediker en sy broer Andrew as dokter. Hendrik se vrou Cecilia (Steyn) sterf in ’n konsentrasiekamp. Johannes Henoch word distriksgeneesheer op Stellenbosch. Willie gaan as sendeling na Mochudi. Chris word predikant, eers op Nieuwoudtville en daarna in die Transvaal. Mimie trou met ds Gonin, sendeling op Saulspoort. Nettie, vrou van ds Pienaar van Somerset-Wes en moeder van twaalf kinders, word veral bekend vir haar kindergediggies. Ella, besonder begaafd, is delikaat en bly by haar moeder. Sy skryf, en neem die redaksie van “De Wekker” oor ná haar moeder se dood. Katie, dosente van naaldwerk aan die Universiteit van Stellenbosch, word ’n persoonlikheid, “Miss Katie”, onder studente en oud-studente.

Maria was ’n lieftallige ouma. ’n Besoek aan haar huis, Vredelus, op die oewer van die Eersterivier, was vir haar kleinkinders ’n gebeurtenis.

As afstammelinge van die Murrays is ons aan Maria dank verskuldig vir haar boek “Unto Children’s Children.” Haar doel daarmee, sê sy, “Toe keep up the bond of union, and that our children may remember that they are covenanted children.”

(Met erkenning aan die opsteller van die hoorbeeld wat aangebied is by geleentheid van die groot saamtrek op Graaff-Reinet in 1972 en ook weer vanjaar, 1982.)

Uit: Murray Nuusbrief Nr 9, Junie 1982. (Op die omslag staan foutiewelik dit is Nr 8.)